Monday 22 December 2014

Openbaring #21: Die koninkryk van die hemele in verborgenheid


Die boek Openbaring mbt die verborgenheid van die koninkryk van die hemele.

Die koninkryk van die hemele in verborgenheid

Beide  die  Ou  Testament  en  Nuwe  Testament  spreek  van  die koninkryk van God. Die basiese betekenis van die koninkryk van God is "God se heerskappy." Dit is die sfeer van die soewereine heerskappy van God. God het die reg om te regeer, daar is die sfeer van God se regering en die realiteit van God se regering of heerskappy waar Hy met koninklike gesag en outoriteit heers.

In die Evangelies word die terminologie "koninkryk van die hemele" en "koninkryk van God" as wisselvorme gebruik (vergelyk Mattheus 4:17 en Markus 1:15; Mattheus 8:11 en Lukas 13:28;  Mattheus  13:11 en Markus 4:11). Omrede Mattheus sy Evangelie hoofsaaklik  aan die Jode gerig het, het hy die formule "koninkryk van God" nie  algemeen aangewend   nie.  Vandaar   Mattheus   se  gebruik   om  “God”  meestal  met “hemele” te vervang.

Die koninkryksleer is in die Bybel veelvlakkig bekendgestel. In totaal is daar vyf fasette. Vier van die vyf fasette is reeds bekend in die Ou Testament; die vyfde faset is die verborgenbeid wat nou eers in die NuweTestament geopenbaar is.

Kortliks dan die vier fasette bekend in die Ou Testatment:

Universele / ewige koninkryk: Dit is God se soewereine heerskappy oor sy ganse skepping. Als kom tot stand deur God se direkte of toegelate wil.

Geestelike koninkryk: Dit verwys na die heerskappy van God in die hart van ‘n gelowige. Dit is saamgestel uit gelowiges deur die ganse menslike geskiedenis. Die geestelike koninkryk sluit in alle gelowiges van die Ou Testament. Die Kerkbedeling, sowel as gelowiges na die wegname van die Kerk.

Die teokratiese koninkryk: Dit verwys na GOD se heerskappy oor Israel. Dit het sy begin by die berg Sinai met die wet van Moses wat dien as die konstitusie van die teokratiese koninkryk. Dit skrifte mbt die teokratiese koningkryk strek vanaf Exodus 19 en eindig met 2 Kronieke 26. Die skrifte bevat in die periode al die geskiedenis van die teokratiese koninkryk.

Die Messiaanse koninkryk: Die koningkryk of anders dan die duisendjaar-vredesryk is die letterlike, aardse koninkryk wat op aarde gevestig sal word. Die Messias sal oor Israel en die heiden nasies regeer, vanaf die troon van Dawid in Jerusalem. Johannes die Doper het die koninkryk verkondig (Mat 3:1-2), Jesus Christus het die koninkryk vir Israel aangebied maar die Joodse leiers het dit in Mattheus 12 verwerp. Die aanbieding is dus teruggeneem van daardie geslag. Menslik gesien, is dit uitgestel, vanuit ‘n Goddelike perpektief, is dit deel van die Goddelike plan. Hierdie koninkryk sal weer aangebied word gedruende die dae van die Groot Verdrukking, wat die Jode dan gaan aanvaar. Die Messiaanse koninkryk sal dan opgerig word.

Dan die vyfde faset:  Die koninkryk van die hemele in verborgenheid

Hierdie vyfde faset van die koninkryk is die enigste van die vyf fasette wat nie in die Ou Testament geopenbaar is nie; dit is eers as verborgenheid in die Nuwe Testament geopenbaar.

Die bekendmaking van die koninkryk van die hemele in verborgenheid het gekom as gevolg van die ]ode se verwerping van die Messiasskap van Christus. Daarom het Jesus 'n voortsetting van die aanbieding van die Messiaanse koninkryk gestaak. Die volk is in bepaalde plekke getoets, plekke soos Kapernauim, Betsaida, en so meer (Matt.11:20-24), waar die verworpe Koning die Een word wat verwerp.

Die verborgenhede van die koninkryk van die hemele ontvou in die gelykenisse van Mattheus 13. Hierdie koninkryke het begin by die verwerping van Jesus Christus as die Messias (Mattheus 12-13) en dit eindig met die aanvaardiging van die Messiasskap van Jesus deur Israel (Mattheus 24-25, Sagria 12). Die koninkryk in verborgenheid sluit die tydvak in vanaf Mattheus 13 tot Johannes 20; dit sluit ook die hele Kerk-era in (Johannes 20 tot Openbaring 3), sowel as die Groot Verdrukking (Openbaring 6 tot Openbaring 19). Die koninkryk in verborgenheid beslaan dus die totale tydperk vanaf Mattheuis 13 tot en met die einde van die Groot Verdrukking.

'n Gelowige in die Kerk-era is dus in die geestelike koninkryk van God sowel as in die koninkryk in verborgenheid.

Die woord "Christendom" beskrywe en definieer die koninkryk van die hemele in verborgenheid. Die term "Christendom" verwys na oral in die wereld waar die geloof in Jesus bevestig word, reg of verkeerd, hetsy ortodoks, in dwaalleer, evangelies of Protestants.

Die koninkryk in verborgenheid in sy huidige vorm of gestalte vind uitdrukking as die Christendom. Hierdie term is die beskrywendste van die aard en wese van die koninkryk soos dit nou daar uitsien.  Daarom vind  ons  in  die  gelykenisse  van  Mattheus  13: gereddes  en  ongereddes, gelowiges en ongelowiges, die goeie saad en die onkruid naas mekaar, as saambestaande,  juis omdat  die koninkryk  in verborge  vorm  is. Hierdie huidige   bedeling   van   die   Christendom   of   verborgenheid van   die koninkryk van die hemele is dan tekenend van hoe die koninkryk tans daar uitsien. Om in die sfeer van die Christendom te wees beteken nog glad nie om gered te wees of saligheid deelagtig te geword het nie. Die ware gelowige is die een wat deur wedergeboorte   in die geestelike koninkryk ingegaan het en saligheid deelagtig geword het. Die ganse sfeer van die Christelikheid, of beter beskrywend, die Christendom, is dan die koninkryk in verborgenheid. Die koninkryk sal so voortduur tot en met die wederkoms van Jesus Christus

Die koninkryk in verborgenheid moet dus onderskei word van die ander vier fasette van die koninkryk omdat:

•      die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die universele of ewige koninkryk nie. Die koninkryk in verborgenheid is beperk in tyd, die universele koninkryk nie;

•      die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die geestelike koninkryk nie, omrede die koninkryk in verborgenheid gelowiges sowel as ongelowiges bevat, wat nie die geval met die geestelike koninkryk is nie;


•        die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die teokratiese koninkryk nie, want dit sluit nie God se heerskappy oor Israel in nie;

•        die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde is as die Messiaanse koninkryk nie, omdat Jesus nie oor die koninkryk regeer vanuit Jerusalem nie; en

•        die koninkryk in verborgenheid nie dieselfde as die Kerk is nie. Die Kerk is wel binne-in die koninkryk in verborgenheid, omdat daar gelowiges daarin is; die Kerk is die koring, en sluit die skat en die perel in (sien die gelykenisse in Mattheus 13), maar dit is nie die totaliteit daarvan nie.

Die Kerk is dus 'n deel of aspek van die koninkryk in verborgenheid, sowel as 'n aspek van die geestelike koninkryk, maar dit is nie die totaliteit van die koninkryk in verborgenheid nie.

Die probleem waarop die profete van ouds geen lig kon werp nie, is wat sou gebeur in die tydvak tussen die verwerping van die Koning en sy wederkoms. Die verborgenhede (geheimenisse) van die koninkryk van die hemele (Matt. 13) bied die antwoord. Jesus Christus sou later in Mattheus 16 nog 'n voorheen verborge doelstelling van God bekend maak: Ek sal my gemeente {Engels: Church) bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Regte (C) 2011 Raymond D Lombard (met toestemming hiermee gegee)

                 

No comments: